"Zuid-Afrikaans Hospitaal het my vertroue in die mediese professie en hospitaaldienste herstel. Dankie!," - Me. De Beer
- Geskiedenis Die Zuid-Afrikaans Hospitaal is gebore uit die bloedigste oorlog wat nog ooit op Suid-Afrikaanse grond plaasgevind het, naamlik die Anglo-Boereoorlog (1899-1902).
1904 Teen 1904 was dit vir die Boere moeilik om in die streng Engelse Victoria Cottage Hospitaal opgeneem te word, want dit was ‘n streng Britse, militêre hospitaal. Die Boere het ‘n eie hospitaal gekort waar hulle tuis kon voel en in hul eie taal verpleeg kon word. So het die Zuid-Afrikaans Hospitaal begin as ‘n 6-bed verpleegfasiliteit in die huis van Generaal CF Beyers in Sunnyside. Die naam van die hospitaal was “Het Hollands Hospetaaltje”, hoofsaaklik omdat die meeste fondse van Holland ontvang is.
1912-1936 ‘n Rentevrye lening van £75 het daartoe aanleiding gegee dat die hospitaal kon verskuif na ‘n perseel op die hoek van Berg- en Walkerstraat in 1912. Die naam het toe verander na “Het Zuid-Afrikaans Hospitaal en Diakonessenhuis” om aan te dui dat dit ‘n fasiliteit is waar Afrikaans gepraat kon word. Die woord Diakonessenhuis is ingesluit om die Christelike aard van die organisasie aan te dui. Die hospitaal is op dieselfde leuse geskoei as die Hollandse Diakonessenhuise waar dit die gebruik was vir die diakonesse om die siekes te verpleeg. (Al het tye verander, verskyn die woord steeds in die naam van die hospitaal om die oorsprong, aard en doel van die hospitaal te gedenk).
1936 In 1936 het Edmond Francis Bourke ( toe die Burgemeester van Pretoria) 34 van die beste persele in Muckleneuk verkoop aan die bestuur van die hospitaal. ‘n Lening van £3 400 is verkry om die grond te koop. Die koste daaraan verbonde om die hospitaal te bou was £20 000, wat befonds is deur Dr CJK van Aalst van Holland (£7 500), die digter Jan Celliers (£1 000) en nog baie meer bekende skenkers. In 1936 is die Zuid-Afrikaans Hospitaal voltooi waar dit vandag nog staan, as ‘n fasiliteit met ‘n 32-bedkapasiteit, ‘n teater en x-straalfasiliteite.
1951 Saal A is gebou in 1951 wat die hospitaal ‘n bedkapasiteit van 53 gegee het. Die Bronberg Apteek is gebou, die x-straalfasiliteite is uitgebrei en 3 operasieteaters is aangebou.
1960/61 ‘n Kindersaal is bygevoeg, die kombuis is vergroot, meer beddens is bygevoeg tot Saal A en nog ‘n verdere 3 operasieteaters is geopen.
1966 Saal C is bygevoeg en 2 verdere operasieteaters is gebou. Die bedkapasiteit het vermeerder na 130.
1968 ‘n Verpleegsterskoshuis is gebou om behuising te verskaf aan die verpleegpersoneel. Die koshuis is nie meer vandag in gebruik nie.
1970/71 Een van die eerste kleuterskole by ‘n Suid-Afrikaanse hospitaal is in gebruik geneem vir die hospitaal se personeel.
1986 ‘n Intensiewe/hoësorgeenheid is bygevoeg.
1992 Verdere aanbouings by die hospitaal en die Gerard Braak-vleuel met spreekkamers is geopen.
2004 Die hospitaal is nou 100 jaar oud! ‘n Nuwe vleuel aan die hospitaal is bygevoeg wat ‘n splinternuwe ingang, ‘n apteek, ‘n kardiovaskulêre-eenheid met ‘n katerisasie laboratorium, nog 2 operasieteaters en 18 intensiewe/hoësorgbeddens insluit. Alle sale is ook opgegradeer.